Vanaand: Profieldokumenêr oor Mariëtta Kruger
Hier volg die nuus – ‘n profieldokumentêr is saamgestel deur Ina Strydom en word op 30 Januarie om 20:00 op RSG uitgesaai.
Om Mariëtta Kruger as ‘n uitsaailegende te beskryf is allemins ‘n oordrywing.
Met ‘n loopbaan wat oor meer as vier dekades strek, op radio én op televisie, het sy in die Afrikaanse gemeenskap ‘n huishoudelike naam geword.
In die profieldokumentêr Hier volg die nuus vertel sy hoe haar loopbaan begin het en wat dit was van radio spesifiek, wat haar so bekoor het. Sy vertel van interessante onderhoude – sy het immers die politiek in die land beleef vanaf BJ Vorster tot en met Cyril Ramaphosa!
Maar daar is ook ander onderhoude wat uitstaan, veral weens haar liefde vir die Afrikaanse letterkunde, en in die besonder die ouer skrywers.
Sy vertel van buitelandse besoeke vir nuusdekking en om materiaal vir programme te kry.
Mariëtta praat oor televisie as medium, en waarom radio haar so ná aan die hart lê. Sy vertel hoe die uitsaaiomgewing verander het, en van die mense wat ‘n invloed op haar lewe gehad het.
‘n Paar oudkollegas vertel hoe dit was om saam met Mariëtta te werk, en wat die jong geslag by haar kan leer. Sy praat ook oor egtheid en integriteit – en die prys van bekendheid.