Wat gaan aan met VF Plus oor Wes-Kaapse dorpsrade?
Maandelange onmin in die Swellendamse munisipale raad is op die spits gedryf toe die VF Plus-raadslid en speaker, Juan van Schalkwyk, ‘n mosie van wantroue in die DA-burgemeester, Francois du Rand, gesteun het. Die mosie is deur die ANC gebring. Die DA en VF Plus regeer Swellendam in ‘n koalisie.
Die Wes-Kaapse leier van die VF Plus, dr. Corné Mulder, het Van Schalkwyk se optrede hand en tand verdedig, terwyl die nasionale leier van die VF Plus, dr. Pieter Groenewald, aangekondig het die party ondersoek Van Schalkwyk se optrede. Swellendam, die derde oudste dorp in Suid-Afrika, is egter nie die enigste munisipale raad waar daar onmin tussen die DA en VF Plus is nie.
Ons praat hieroor met Heindrich Wyngaard, voorsitter van Kaapse Forum en ’n politieke kommentator. Heindrich reis wyd in die Wes-Kaapse platteland.