Skeurtandhaaie en toerisme?
Wat het skeurtandhaaie en duikers met toerisme te doen?
Inderdaad baie meer as wat jy dalk ooit kon vermoed.
Meer oor die skeurtandhaai
Haaie is in die wetenskaplike klas Chondrichthyes en is seevisse met ‘n kraakbeen skillet. Die sub-klas, Elasmobrachii sluit ook rogge en pylsterte in.
Haaie word ook gekenmerk deur hul 5 – 7 kieusplete weerskante en net agter hulle koppe.
Daar is meer as 470 verskillende spesies en die grootste haai is die walvishaai wat tot 12 meter lank word.
Die Two Oceans Aquarium hou skeurtandhaaie aan, en so ook baie ander akwariums in die wêreld. Skeurtandhaaie kom aan ons Suid-Afrikaans kus voor en is ook bekend as ‘grey nurse’ haaie in Australië en ‘sand tigers’ in Amerika.
Gedurende November en Desember kom skeurtandhaaie by mekaar om die riwwe in die Oos Kaap en Suid KwaZulu-Natal om te paar, en die verwagtended wyfies swem dan noord na die warmer water in Noord-Natal en Suid-Mozambiek gedurende swangerskap.
Skeurtandhaai is ovoviviparus – dit wil sê die eiers ontwikkel in die wyfie en sy gee geboorte aan lewendige haaitjies. Gewoonlik
is daar 16 – 23 eiers, maar gewoonlik oorleef net die 2 sterkste embrio’s wat dan die ander embrio’s eet.
Die wyfies swem terug na die Oos Kaap (naby Oos-London) ná omtrent 9 – 12 maande. Die baba haaitjies word dan hier gebore.
Skeurtandhaaie kom meestal naby die kus voor en hulle verkies vlakker water.
Hulle kom voor tot in die Wes-Kaap in die somer maande, maar beweeg kus op tydens die kouer winter maande.
Die Two Oceans Akwarium se eerste skeurtandhaai, Dee, het van die akwarium in Port Elizabeth per trok na Kaapstad gekom in 1995. Dee is in 2006 vrygelaat, na 11 jaar in akwariums. Die eerste haai wat vrygelaat is van die akwarium was Maxine, in 2004, as deel van die Save Our Seas Foundation M-Sea projek met AfriOceans Conservation Alliance. Maxine, en verskeie ander haaie, het satteliet merkers gekry en hulle bewegings na vrylating is bestudeer en vergelyk met wilde skeurtandhaaie. Dit was en bly nog steeds wonderelik om te sien hoe goed hulle aanpas terug in die oseaan.
Skeurtandhaaie kan vir langer as 45 jaar lewe, en die Two Oceans akwarium hou nou haaie aan vir 5 – 7 jaar, soms korter, so die haaie spandeer nog steeds die grootste deel van hul lewens ter see.
Meeste van die haaie word gevang met visstok vanaf die kus tussen Struisbaai en Oos London. Nuwe haaie is gewoonlik nie in perfekte kondisie nie, met baie vel parasiete en byt merke. Die lewe van ‘n wilde haai is nie so gemaklik soos die haaie in die ‘akwarium hotel’ nie. Hulle is gewoonlik ook baie maer as hulle hier aankom.
Skeurtandhaaie groei tot omtrent 3 meter in lengte. Hulle tande is altyd sigbaar – so dit is ‘n baie goeie spesie om te sien vir die akwarium besoeker. Hulle is stadige swemmers en beskik die vermoeë om water oor hulle kieue te pomp – so hulle hoef nie aktief te swem soos meeste ander haai spesies nie.
Hulle is ook baie rustige haaie, behalwe tydens teel tyd wanneer die mannetjies so bietjie aggressief raak teenoor die wyfies.
Die wyfies het ook ‘n goeie konsep van spasie, en sal nie sommer in ander haaie, visse of duikers vas swem nie. Die mannetjies is nie so goed daarmee nie.
Aangesien hulle so rustige geaardheid het kan ons elke dag saam met hulle duik en hulle leer om met die hand (of vurk altans) gevoer te word. Ons voer hulle goed sodat hulle nie gereeld self vis vang in die tenk nie. Gelukkig verloor hulle nie hul vermoeë om wel te jag nie.
Skeurtandhaaie is ook ‘n baie mooi brons kleur, en die kleintjies is vol kolle.
Skeurtandhaaie sluk lug in om hulle dryfvermoeë te kontroleer. Dit is nogal interessant om te sien hoe hulle dit doen. Veral voor hulle jag sluk hul lug en dan kom hulle stadig van agter om hul prooi te vang naby aan die oppervlak.
Die feit dat hulle ook meestal in vlakker water voorkom maak hulle ideale spesie vir ‘n akwarium.
Ons laat ons haaie vry in die migrasie roetes en dit hang af van die tyd van die jaar wat hul vrygelaat word. So dit kan vanaf Gordonsbaai tot en met Durban wees. Die haaie se welstand kom altyd eerste.
Skeurtandhaaie is ‘n bedreigde spesie aangesien hulle stadig groei en begin teel en so min kleintjies op ‘n slag kry. Omdat hulle so naby aan die kus voorkom word hulle ook bedreig deur visvang.
Skeurtandhaaie in Australië word al beskerm vanaf 1984. In Suid Afrika mag haaie nie verkoop word sonder ‘n permit nie.
Die akwarium hou haaie aan want min mense kry die geleentheid om haaie te sien, en dit gee ons die geleentheid om mense in te lig oor hoe ongelooflik die spesie is en dat haaie wêreldwyd beskerm moet word. Omtrent 100 miljoen haaie word elke jaar doodgemaak. Dit is ironies dat mense bang is vir haaie, aangesien haaie omtrent 4 – 5 mense dood byt per jaar teenoor die miljoene haaie wat deur mense doodgemaak word.
Haaie eet nie mense nie, en ‘n aanval of insident is meer gereeld ‘n haai wat ‘kyk/voel’ – ongelukkig met hul monde vol tande aangesien hulle nie hande het nie.
Haaie het baie rye tande wat aanhoudelik uitval en weer groei. Haaie vervang duisende tande per leeftyd.
Perde veroorsaak die dood van omtrent 40 mense per jaar en so ook jellyvisse, seekoeie maak meer as 2000 mense dood per jaar, stoele en vlieërs maak heelwat meer mense dood per jaar as haaie. In New York is meer mense gebyt deur ander mense as wat mense deur haaie gebyt is wêreldwyd in die afgelope jaar. Dit laat mense dink.
Haaie is nie die vreesaanjaende diere wat films soos Jaws hulle uitmaak nie.
Haaie is top roofdiere in die oseaan, en speel ‘n baie belangrike rol in die ekosisteem. As daar minder haaie is, is daar nie balans nie. Die akwarium hoop dat ons haaie en hulle stories mense in verwondering sal kry.
Ons het al verskeie bewustheid veldtogte gehou waar haaie goeie ambassadeurs is vir marine bewaring. Mense soos Chris Bertish en Justin Coetzee het met ons haaie geswem om mense bewus te maak van oseaan besoedeling byvoorbeeld en om mense te inspireer om die see en haaie en ander see diere te respekteer.
Waar pas haaiduik by toerisme in?
‘n Haaiduiker skryf as volg oor haaiduik:
“Haaiduik is amper die grootste deel van ons duiktoerisme in Suid- Afrika. Duikers van oor die wêreld kom kuier vir ons, veral in Aliwal Shoal, Protea Banks, Mosselbaai en Gansbaai in die Weskaap. Hier by ons in Blue Ocean ontvang ons meestal internasionale duikers van Frankryk, Duitsland, Amerika, Engeland, Spanje, Italië, Holland, Rusland en Pole.
Die verskeie seisoene bring verskillende haaie. So kom die skeurtandhaai gewoonlik kuier in ons wintermaande. Mense kom van wêreldwyd om hulle te beleef. Hulle bly by ons tot en met so November se kant om te tiel.
Om met die haaie te duik, wys mense dat die “Jaws Syndroom” nie waar is nie en die haaie is regtig nie mensvreters nie. Ons duik daagliks met haaie soos tierhaaie, oseaaniese swartpunt-haaie, zambezi-haaie, witpuntrif-haaie, kitaarhaaie en natuurlik ons geliefde skeurtandhaaie. Die enigste gevalle waar iemand wel gebyt is, was dit weens hulle eie optrede.
Partymaal is die haaie nuuskierig, maar hulle hou hul afstand; ons borrels maak hulle onseker van wat ons is. Hulle sien ons ook as groter as hulle. Ons beleef hulle as kalm en elegant. Daar is niks wat die gevoel kan beskryf wat jy voel wanner jy die eerste keer daai haai ervaar nie. Die gevoel gaan nooit weg nie. Dit is net asemrowend.
Elke dag vóór dat ons uitgaan op see, gee ek ‘n inligtingsessie vir ons gaste sodat hulle die beste ervaring kan hê sonder om die haaie te verjaag. Dit klink so:
‘Wanneer ons by die skeurtandhaaie kom, vra ons dat julle nie in hulle pad swem nie; hulle kan nie mooi sien nie aangesien hulle meestal in die nag aktief is. ‘n Skeurtandhaai se dryfvermoeë word beheer deur lug wat in die maag in gaan op die oppervlak. As julle hulle skrikmaak, verloor hulle die lug van hulle maag deur ‘n flitsbeweging van ‘n stertklap. Daar is verskeie riwwe waar die skeurtandhaaie verkies om tyd te spandeer – Cathederal, Raggies Cave en Chunnel Cave is drie van die riwwe; ons mag egter nie by hierdie riwwe ingaan nie uit respek vir die haaie en hulle rusplek.’
“‘n Snaakse gedrag wat ons al van die skeurtandhaaie gesien het, is om hulle snoet in die sand te steek terwyl hulle terselfdertyd vinnig swem, amper asof hulle probeer om hul tande te laat uitval. ‘n
Haai se tande val dikwels uit om plek te maak vir nuwe tande. ’n Ander teorie vir hierdie gedrag is om enige peste van hul snoete af te krap. Niemand weet wat die ware rede is vir die tipe gedrag nie. Oor die algemeen is hulle gedrag heeltemal kalm.”
Daar is ‘n skriftelike duikers gedragskode ongelukkig in engels: http://sharks.csir.co.za/code.htm