Wendramas en 100 jr van Afrikaans in ons nuwe radioteaterseisoen


Ons eerste Radioteaterseisoen van 2025 begin op 3 April en duur tot 26 Junie,  elke Donderdagaand om 20:00. Luisteraars kan uitsien na oorspronklike wentekste, onvergeetlike stories en ‘n paar verrassende nuwe klanke.

Die RSG Radiodramaskryfkompetisie in samewerking met die ATKV gee skrywers die geleentheid om hulle skryfvernuf te toets, ‘n kans te staan om groot prysgeld te wen, en hulle werk op die radio te hoor. Die ATKV en RSG is opgewonde om 2024 se wendramas en die belegging wat in skrywers gemaak word, ten toon te stel.

Alle dramas is ná uitsending op potgooi beskikbaar.

3 April
Die seisoen begin met die wenner in die afdeling vir jong skrywers, die twee-en-twintigjarige Shawn Day se drama, Die versamelde dagboeke van ene Professor Weidemann, met regie deur Luan Jacobs.

Die verhaal vertel van Malan (Hannes Brümmer), ‘n joernalis, wat die verdwyning van ‘n professor ondersoek nadat sy dagboeke deur sy vrou gepubliseer is. Daar is vrae wat nie beantwoord kan word nie. Malan soek sonder ophou om die geheim op te los wat sy lewe begin oorheers.

Hannes Brümmer, Mari Molefe van Heerden, Sulette Thompson, Francois van Rensburg, Elzabé Zietsman en Francois Stemmet is deel van die rolverdeling.

10 April
Die merietepryswenner Manie Groenewald se drama, Die vrywording van Egbertus Lodewikus Appel vertel van Stella (Rika Sennet) wat 64 word en in Huis Silwerland woon. Sy het niemand vir die geleentheid genooi nie. Haar buurman slaag daarin om haar uit haar depressie te kry. Maar dan daag ʼn tweede gas op.

Johny Klein is die regisseur met Rika Sennet as Stella, Tobie Cronjé as Ockert en Luan Jacobs as Bertie in die rolverdeling.

17 April
Lyne wat kruis
deur Wilmi Wheeler het die derde plek behaal, en vertel van Janine (Izel Bezuidenhout), vol twyfel en vars in die grootmenswêreld. Lindsay, ’n meer ervare kollega, gooi vir haar ’n reddingsboei: ’n lys van kliënte. Maggie is vasgevang in ’n toksiese huwelik en met elke gesprek trek sy Janine al dieper in haar wêreld in. Pietie Beyers het hierdie aangrypende verhaal geregisseer met bekende spelers soos Izel Bezuidenhout, Heidi Mollentze, Erin Patience, Johny Klein en Rian Terblanche in die rolverdeling op 17 April.

18 April
Die Paasdrama uit die argief, Die leë graf (2020), kan op 18 April om 14:00  weer gehoor word.   Nikodemus (Richard van der Westhuizen) beleef ‘n geloofstryd. Kan hy sy posisie in die Sanhedrin prysgee om Jesus openlik te bely, of skuil hy vir die res van sy lewe onder die dekmantel van die nag?  Helena Hugo is die skrywer en regisseur met Lochner de Kock, Richard van der Westhuizen, Pietie Beyers, Francois Stemmet, Ria Smit en Charlie Bouguenon in die rolverdeling.

24 April
Leniesgif,
deur Hendie Grobbelaar, is die naaswenner van die skryfkompetisie en kan op 24 April gehoor word. Benjamin de Kai (Carel Nel) is ʼn uitgebrande hygromanskrywer. Sy uitgewer se nuwe assistent, Dania, stuur hom na Leniesgif om te fokus en skryf. Daar is wel ‘n paar verrassings wat wag. Hoe pas Benjamin in Dania se plan?  Amor Tredoux is die regisseur met Carel Nel, Conradie van Heerden, Ronel Geldenhuys, Lochner de Kock, Talana Rossouw (debuut), en Anene Loots (debuut) in die rolverdeling.

1 Mei
Die 2024 wenner van  RSG Radiodramaskryfkompetisie in samewerking met die ATKV was  Marion Erskine met sy futuristiese drama, Konneksie. Dawid le Roux (Anrich Herbst) is ‘n rekenaarprogrammeerder in die jaar 2050. Hy is nie te vinde vir menslike geselskap nie, en is tevrede met sy persoonlike androïede, Amanda. Die wêreld van kunsmatige intelligensie het voordele, maar ook uitdagings. Die stryd tussen mens en masjien is nog lank nie verby nie. Luister op 1 Mei na Konneksie,  met Johan Rademan as regisseur en Anrich Herbst, Karli Heine, Denver Vraagom, Ilne Fourie, Deon Lotz, Sharfa du Plessis en June van Merch in die rolverdeling.

8 Mei
Afrikaans as amptelike taal word in 2025 100 jaar oud en RSG-Radioteater het seker gemaak daar is genoeg drama en intrige om die taal se kleurryke verskeidenheid ten toon te stel. Eben Cruywagen het reeds in die tweede seisoen van 2024 die viering ingelui met  verwerkings van twee kortverhale Ou Leeumelker deur JWF Grosskopf en Gelykheid en broederskap deur Abel Coetzee, asook ‘n verwerking van  Die Sprinkaanbeampte van Sluis, deur Jochem van Bruggen in ‘n kort vervolgverhaal.

Die Sprinkaanbeampte van Sluis – Luister hier

Ou Leeumelker – Luister hier

Gelykheid en Broederskap – Luister hier

Afrikaans is op 8 Mei 1925 as amptelike taal verklaar. RSG-Radioteater bied op dié dag ‘n spesiale radiodrama Ken jy vir Fytjie Eland? aan, deur Eben Cruywagen.  Fytjie (Claudia Jones) is verlief op Tariq, maar dit dra nie haar ouers se goedkeuring weg nie. Dis die jaar 1913. Fytjie loop weg saam met Tariq. In ‘n poging om haar op te spoor tref Johannes (Johny Klein) en Katrina Eland (Eloise Cupido) soveel mense aan op die pad. Tot hulle aankom by Senator Christiaan en sy vrou, Francina Brand se huis. Terwyl die Elands hulle dogter weer vind ná ‘n soektog van 13 jaar, word  ‘n taal gebore. Met Lelia Etsebeth as regisseur en Johny Klein, Eloise Cupido, Claudia Jones, Solomon Cupido, Shemane Harris, Allan Dyssel en Marintha Labuschagne in die rolverdeling. Gavin Mathys van WITS is die aksentafrigter vir die opname.

15 Mei
Leon van Nierop is die regisseur van, As kluise kon praat, deur Marion Erskine. Die verhaal is losweg gebaseer op die 1977 Krugersdorp-bankroof wat tot vandag toe nog nie opgelos is nie. Van Nierop het berge versit met uitdagende byklanke en regie wat die drama in vele opsigte grensverskuiwend maak. Vier mynwerkers besluit hulle gaan die grootste bankroof in die Suid-Afrikaanse geskiedenis uitvoer. Hulle beplanning was so fyn dat geen spoor agtergelaat is nie. Net ‘n paar rooi gesigte en vier Elvis-maskers. Skakel op 15 Mei in om Charlie Bouguenon, Karen Wessels, Kaz McFadden, Estelle Grobellaar, Kevin Smith, Christopher van der Westhuizen en Hannes Brümmer te hoor in hierdie boeiende verhaal.

22 Mei
My Japan
bly ‘n gunsteling uit die argief. Op 11 Maart 2011 het ʼn verwoestende tsoenami Japan getref. ʼn Onderwyseres wat Engels in Japan onderrig het, Angelique Naudé, het die ramp eerstehands meegemaak en het haar ervarings en indrukke met die bekende joernalis Schalk Schoombie gedeel. Schalk het dit toe in ʼn pryswennende jeugdrama verwerk, en toe as radiodrama. Leon van Nierop het die regie behartig met Donna-Lee Roberts, Rolanda Marais en Melt Sieberhagen in die hoofrolle teenoor Stefan Vermaak, Christine Voorendyk en Ursula Vorster te hore op 22 Mei.

29 Mei
Rooi Papawer
 uit die pen van SD Fourie op 29 Mei, is keurig regisseer deur Mari Snyman. ‘n Liefdesverhaal vervleg met die Griekse mitologie vertel ‘n verhaal van hartseer, versoening, en emosionele verlossing. Met Stephanie Baartman (debuut), Elma Potgieter, Anton Dekker, Charlie Bouguenon en Louise Eksteen in die rolverdeling.

5 Junie
Albert Maritz se ‘n Hospitaalsaal in Bloem, roer die nostalgie wat herinner aan ‘n tydperk van diensplig en opoffering, twee begrippe wat oorlog definieer. In ‘n oorlogshospitaal word iets van alles in ‘n kookpot gegooi. En binne die vier mure is min wegsteekplek. Verbeel jou jou waarnemer beskou, soos ‘n voël  van hoog af, almal se beste pogings om oorlewing. Joanie Combrink as regisseur laat hierdie verhaal op 5 Junie lewe kry.

12 Junie
Broodlyn
plaas die fokus op Vadersdag. Die drama ondersoek die verhouding tussen ‘n pa, Franklyn, en sy twee seuns. Na al sy suksesse besluit hy dis tyd dat sy seuns in sy voetspore volg en hy wil alles aan sy seuns oorlaat. Die stryd om bo die broodlyn uit te styg is ‘n konstante bekommernis en kan die familie skeur of versterk.  Hein Poole is die skrywer van Broodlyn op 12 Junie.

19 Junie
Die laaste ontsnapping
op 19 Junie, is ‘n boeiende verhaal deur Stefaans Coetzee en Annerle Barnard, en ʼn blik op daardie onbekende wêreld in die tronk. Die tronk is egter meer as geweld, seks en dwelms. Daarom het die skrywers besluit om ʼn menslike storie te vertel. Lupin, ʼn gewese restauranteienaar (65), hou die rekord vir die meeste ontsnappings uit Suid-Afrikaanse tronke. Hy wil nie in die tronk sterf nie, maar is te oud om te ontsnap. Hy vra vir Roux Steyn – die antiheld van sel ses – om hom dood te steek. Roux besluit om eerder vir Lupin te probeer help ontsnap. Die rolverdeling sluit Andre Odendaal, Mortimer Williams en JJ Roberts in. Eddie de Jager behartig die regie.

26 Junie
Die seisoen sluit op 26 Junie af met ‘n verwerking van Die Damhuis, deur Reinet Nagtegaal. Henriëtta Gryffenberg het die verhaal keurig verwerk vir die radio. Dit vertel die storie van die bekende restaurant Die Damhuis op Melkbosstrand. ‘n Verhaal deur die oë van vroue wat die storm-en-drangjare van anneksasie, die stryd om eienaarskap, en die vryspreek van slawe trotseer het. Met regie deur Sophia van Taak.