Wendramas: ‘Shirley se skuld’ op 2 Mei
Luister Donderdag 2 Mei na Shirley se skuld, een van ons wendramas.
Ons sluit die tentoonstelling van 2023 se wendramas af met die merieteprys wenner, Shirley se Skuld, deur Anene Loots.
Die wêreld van ‘n tehuis vir bejaardes word in die fynste besonderhede geskep in hierdie drama. Anene Loots gee ‘n blik op hulle behoeftes en uitdagings Hulle onbeholpenheid met hedendaagse tegnologie en sosiale media word op ‘n komiese maar deernisvolle manier uitgebeeld. Oor en weer beskuldigings loop uit op ‘n onverwagse liefde en ‘n dure les.
Die storie
Al woon die bejaarde Rina in ‘n aftree- oord, wil sy nog steeds avonture aanpak en haar lewe geniet. Wanneer dit lyk of daar ‘n kans is dat sy soos Shirley in die rolprent Shirley Valentine, op ‘n Griekse eiland kan gaan vakansie hou, is haar opgewondenheid groter as haar gesonde verstand. Onverwagse wendinge bring drama en konsternasie, met komiese gevolge.
Die spelers
Die span akteurs, van hulle self ook nie meer jonk nie, het pret gehad en die humor in die stuk geniet.
Die spelers is Susanne Beyers, Elsabe Daneel, Nic de Jager, Zenobia Kloppers, Dean Balie en Roeline Daneel.
Regie en tegniese versorging
Die regie is behartig deur Joanie Combrink, met die tegniese en akoestiese versorging deur Cassi Lowers.
Die skrywer
Anene Loots (64) is die wenner van die merieteprys, gekies deur die beoordelaars uit die finaliste wat nie die vier topposisies beklee het nie. Anene is ‘n onderwyseres wat ‘n aflospos by Laerskool Jan van Riebeeck in Kaapstad beklee.